Bahai-Faith.org – Afrikaans

“DIE WELSTAND VAN DIE MENSDOM, SY VREDE EN VEILIGHEID IS ONBEREIKBAAR TENSY EN VOORDAT SY EENHEID STEWIG GEVESTIG IS.”1
-Bahá’u’lláh-

Bahá’u’lláh is die Profeet-Stigter van die Bahá’í Geloof, die jongste selfstandige wêreld-godsdiens. Daar is meer as 6 miljoen volgelinge in meer as 235 lande en gebiede.

Waaroor gaan die Bahá’í Geloof?
“Die Bahá’í Geloof handhaaf die eenheid van God, erken die eenheid van Sy Profete, en prent die beginsel van die eenheid en geheelheid van die ganse menseras in. Dit verkondig die noodsaaklikheid en die onvermydelikheid van die vereniging van die mensdom.”2

Wie is Bahá’u’lláh?
Bahá’u’lláh is die Boodskapper van God vir hierdie eeu en die Beloofde Een van alle gelowe. Hy het 40 jaar gevangenskap ondergaan en is verban van Tihrán in Iran oor Konstantinopel (Istanboel) in Turkye en Adrianopel (Edirne) in Turkye na `Akká in die Heilige Land (Foto), waar Hy in 1892 oorlede is (Foto). Bahá’u’lláh beteken “Die Heerlikheid van God”.
“. . . dit is die Dag waarin die mensdom die Aangesig kan aanskou, en die Stem kan hoor, van die Beloofde Een. . . . Groot is hierdie Dag inderdaad! Die sinspelings wat in alle heilige Geskrifte hierop gemaak is as die Dag van God, getuig van die grootheid daarvan. Die siel van elke Profeet van God, van elke Goddelike Boodskapper, het na hierdie wonderbare Dag gesmag.”3
Die Báb is die Voorloper van Bahá’u’lláh. Hy is die Boodskapper van God Wat die mense voorberei het op die koms van Bahá’u’lláh. Hy het Sy Sending in 1844 in Shíráz in Iran (Foto). verklaar. Ná ses jaar van lyding en gevangenskap is Hy doodgemartel (Foto). Sy volgelinge is vervolg en meer as 20 000 is tereggestel. Die Báb beteken “Die Poort”.
‘Abdu’l-Bahá (Foto), die oudste seun van Bahá’u’lláh, was die Toonbeeld van die leringe van Bahá’u’lláh en is aangewys as die enigste Vertolker van Sy Geskrifte. Hy het ook saam met Bahá’u’lláh in die gevangenis gely. ‘Abdu’l-Bahá beteken “Dienaar van God”.

Wat is die leringe van die Bahá’í Geloof?

Eenheid van God
“Dit ly geen twyfel hoegenaamd dat die volkere van die wêreld, van watter ras of geloof ook al, hulle inspirasie uit een hemelse Bron put, en die onderdane is van een God.”4

Eenheid van Geloof
“Die doel van geloof soos geopenbaar van die hemel van Gods heilige Wil is om eenheid en harmonie onder die volkere van die wêreld tot stand te bring.”5
“Elke Goddelike Openbaring is so gestuur dat dit die omstandighede van die Eeu waarin dit verskyn het, gepas het.”6
“Weet vir seker dat die lig van Goddelike Openbaring in elke Bedeling aan die mens vergun is in direkte verhouding tot hulle geestelike vermoë.”7
“Weet sekerlik dat die wese van al die Profete van God een en dieselfde is. Hulle eenheid is volstrek. God, die Skepper, sê: Daar is geen onderskeid hoegenaamd tussen die Draers van My Boodskap nie.”8

Eenheid van die Mensdom
“O Kinders van die Mense! Weet julle nie waarom Ons julle almal uit dieselfde stof geskape het nie? Sodat geen mens hom bo ‘n ander sou verhef nie. . . . Daar Ons julle almal geskape het uit een en dieselfde stof, is dit julle plig om net soos een siel te wees, . . . sodat uit julle innigste wese deur julle dade en handelinge, die tekens van eenheid en die kern van onthegting kenbaar mag word.”9
“Julle is almal die blare van een boom en die druppels van een oseaan.”10
“Wees julle soos die vingers van een hand, die ledemate van een liggaam.”11

Godsdiens behoort die oorsaak van liefde en toegeneentheid te wees
“Godsdiens behoort alle harte te verenig en oorloë en twiste van die aarde te laat verdwyn, geestelikheid in die lewe te roep, en lewe en lig aan elke hart te bring. As godsdiens ‘n oorsaak van onmin, haat en verdeling word, dan sou dit beter wees om daarsonder te wees, en om jou aan so ‘n geloof te onttrek sou ‘n waarlik godsdienstige daad wees.”12

Uitskakeling van alle Vooroordeel
“. . . godsdienstige, nasionale en politieke vooroordeel, dit alles is ondermynend vir die fondament van die menslike samelewing, alles lei tot bloedvergieting, alles stort die mensdom in die ongeluk. Solank dit bestaan, sal die vrees vir oorlog voortduur.”13

Die doel van die lewe
“Alle mense is geskape om ‘n steeds vorderende beskawing verder te voer . . . Om soos diere van die veld op te tree, is die mens onwaardig. Dié deugde wat sy waardigheid pas is verdraagsaamheid, genade, meegevoel en goedertierenheid teenoor al die volke en verwante van die aarde.”14

Die Vermoë van die Mens en die Belangrikheid van Opvoeding
“Beskou die mens as ‘n myn ryk aan juwele van onskatbare waarde. Opvoeding kan alleen die skatte daarvan aan die lig laat kom, en die mens in staat stel om voordeel daaruit te trek.”15

Self-Opvoeding
“Hoe kan u u eie foute vergeet en u met die foute van ander bemoei? … vergroot nie die foute van ander dat u eie foute nie groot sou voorkom nie …”16

“Die heilige Manifestasies van God is gestuur om die eenheid van die mensheid sigbaar te maak. Daarom het hulle ongetelde euwels en beproewings verduur, sodat ‘n gemeenskap uit die mensdom se uiteenlopende volkere saam kon kom binne die skadu van die Woord van God, en soos een kon lewe, en, met genot en grasie, op aarde die eenheid van die mensdom kon aantoon.”17
Bahá’u’lláh het geestelike en maatskaplike leringe en wette geopenbaar wat die mensdom benodig om die probleme van hierdie tyd op te los. In die Bahá’í gemeenskap is daar geen predikante of priesters nie. In plaas daarvan is daar instellings op die plaaslike, nasionale en internasionale vlakke, wat elk uit nege verkose Bahá’ís bestaan.
As u in u hart saamstem met wat u gelees het, dan kan u uself as ‘n Bahá’í beskou en kan ingeskakel word by die wêreld-omvattende Bahá’í familie (Kontakte).

‘n Keur van Aanhalings
“Ek getuig, o my God, dat U my geskape het om U te ken en U te aanbid. Ek betuig, op hierdie oomblik, my magteloosheid en U mag, my armoede en U rykdom. Daar is geen ander God buiten U nie, die Hulp in Gevaar, die Selfbestaande.”18
“Dompel julle self in die oseaan van My woorde, sodat julle die geheime daarvan mag ontrafel, en al die pêrels van wysheid mag ontdek wat in sy dieptes versteek lê. Pas op dat julle nie aarsel in julle vasberadenheid om die waarheid van hierdie Saak te omhels nie …”19
“Sê die verse van God elke oggend en aand op.”20
“Wie ook al in die privaatheid van sy kamer die verse sê wat deur God geopenbaar is, vir hom sal die verspreidende engele van die Almagtige die geur van die woorde deur sy mond uitgespreek heinde en verre strooi, en die hart van elke regskape man laat klop. Alhoewel hy eers van die uitwerking daarvan onbewus mag bly, tog moet die deugsaamheid van die genade wat aan hom vergun is vroeër of later sy invloed op sy siel uitoefen.”21

Tuisblad voetnote
1 Bahá’u’lláh, Gleanings CXXXI
2 Shoghi Effendi, Call to the Nations, bl XII
3 Bahá’u’lláh, Gleanings VII
4 Bahá’u’lláh, Gleanings CXI
5 Bahá’u’lláh, Tablets of Bahá’u’lláh, bl 129
6 Bahá’u’lláh, Gleanings XXXIV
7 Bahá’u’lláh, Gleanings XXXVIII
8 Bahá’u’lláh, Gleanings XXXIV
9 Bahá’u’lláh, Die Verborge Woorde, A 68
10 Bahá’u’lláh, Tablets of Bahá’u’lláh, bl 27
11 Bahá’u’lláh, Gleanings LXXII
12 ‘Abdu’l-Bahá, Paris Talks, bl 116
13 ‘Abdu’l-Bahá, Bahá’u’lláh and the New Era, bl 246
14 Bahá’u’lláh, Gleanings CIX
15 Bahá’u’lláh, Gleanings CXXII
16 Bahá’u’lláh, Die Verborge Woorde, A 26 and P 44
17 ‘Abdu’l-Bahá, Selections of the Writings of ‘Abdu’l-Bahá, bl 278
18 Bahá’u’lláh, Bahá’í Gebede, bl 4
19 Bahá’u’lláh, Gleanings LXX
20 Bahá’u’lláh, Deepening, bl 1
21 Bahá’u’lláh, Gleanings CXXXVI